Aanvanklik was dit vir my moeilik om my kop uit Kya se moeraswêreld los te maak, want die krewe het nog lank gesing nadat ek klaar was met Delia Owens se boek. Daarom het ek ietwat hortend begin lees aan twee ander tieners se dagboeke, waarmee Marita van der Vyver se nuutste roman, Grensgeval, afskop. Wat Theresa ontdek in haar oorlede man, Theo, se skrywes oor sy belewenis van die grensoorlog, lei egter die heldin om ’n reis na Kuba aan te pak, met ’n missie om ’n dogter te vind wat nou al ’n volwassene moet wees.

Theresa stap by die lughawegebou in Havana uit en bevind haarself as’t ware in ’n ander era grensgevalmet “papegaaimotors” en legendariese geboue, wat aan die besondere buiteblad relevansie verleen. Dit is op hierdie punt waar die storie my gedagtes gekaap het. Die geskiedenis van Kuba, die oorlog waarin Kubaanse en Suid-Afrikaanse soldate teen mekaar moes veg, en die persoonlike lewens van die families betrokke, word so soomloos vervleg dat ek nie anders kon as om gretig die bladsye te blaai nie.

Die boek is uniek, in dat dit nie suiwer ’n oorlogstorie is nie. Die skrywer trap ook nie in die slaggat om die tyd in Kuba soos ’n reisjoernaal te laat lees nie. Tog word die vernietigende gevolge van oorlog duidelik aangespreek, ook die langdurige gevolge van verhoudings wat verbrokkel.

Ek het nog nie baie van Marita van der Vyver se werk gelees nie en gaan dit dus nie kan vergelyk nie, maar ek vind geen rede om nie vyf sterre daaraan toe te ken nie.