Die gedagte aan die lees van ’n verhaal van kort duskant vyfhonderd bladsye was vir my intimiderend in grendeltyd. Juis omdat die inperking unieke eise stel ten opsigte van mý tyd en gemoedstoestand. Tog maak ek toe die heerlike fout om die proloog te lees, en vir twee dae was ek verlore vir my huishouding! Die storie van Kanaän en sy diverse karakters is so beeldryk en oortuigend vertel deur Sophia Kapp dat ek myself totaal daarin verloor het.

“… sommige stories is wyer as die tyd waarin hulle afspeel, en kanaanmeer werd as net die karakters wat daarin optree.” (bl 11). Nadat ek die treffende slotparagraaf gelees het, het ek weer die proloog gelees en weer gehuil oor die Italianer wat kyk hoe die son sak oor die koring voor sy huis. Trouens, ek het kort-kort stil trane gestort oor die verliese en stryd, maar ook die vreugdes van die karakters.

Hierdie historiese roman speel af in 1944, grotendeels op die plaas, Kanaän, in die distrik Senekal, maar dit betrek die wêreldgeskiedenis van daardie tyd en daag die leser uit om vooroordele en misdrywe, internasionaal en plaaslik, in die oë te kyk. Dit grens vir my aan heiligskennis om ’n mening te wil lig oor so ’n besondere roman. Daarom volstaan ek deur te sê dat dit volpunte kry van my af.

Gaan kyk gerus op Boekemakranka se YouTube kanaal na die gesprek wat gevoer is met Sophia Kapp. Sy gee interessante inligting oor haar navorsing en ontwikkeling van die karakters. Ook oor die keuse van die jaar waarin dit moes afspeel. En doen jouself dan die guns om hierdie boek aan te skaf as jy dit nie reeds het nie, en hou van ’n weldeurdagte en boeiende verhaal.