Met die eerste oogopslag, nog voordat ek die subtitel gelees het, het die buiteblad van Esther Verhoef se Liewe mamma ’n koue rilling by my rug afgestuur. Dit het net onheil gespel, wat toe ook presies so blyk te wees.

Omdat ek maar effens aan die kant van die sensitiewe leser lê, het ek met huiwering die boek oopgemaak. Die brief aan haar ma, waarmee die boek begin, was egter ’n effektiewe hoek; dit tesame met die vloeiende Afrikaans waarin Joanita Fourie die Nederlandse teks vertaal het. Ek het intussen geleer dat die skrywer ’n bekroonde en uitliewemammaers suksesvolle skrywer is, in verskeie tale vertaal. Hierdie is haar eerste boek wat in Afrikaans vertaal is.

Ek gaan niks van die storielyn verklap nie, want ek wil geen leser van die geleidelike ontplooing van die intrige ontneem nie. Ek sal volstaan deur te sê dat die storielyn geskoei is opeenvolgende foute wat gemaak word, beide deur volwassenes en deur jongmense. Foute wat verreikende en onomkeerbare gevolge inhou. Daar is baie negatiewe elemente wat ’n rol speel, onder andere dwelms, drank, huweliksontrou, geldgierigheid, verskuilde agendas, om maar ’n paar te noem.

Ek is dankbaar dat ek dit gelees, eerder as gesien het, want ek kon my verbeelding probeer weerhou daarvan om die grusame tonele te visualiseer. Die karakters van Liewe mamma het my nog nie laat gaan nie. Dit is ’n angswekkende verhaal wat jou bybly.