Daar is nie sonder rede ‘n stel boeie op die buiteblad van Magdaleen Walters se nuwe romantiese fiksie nie. “Hou op agtertoe kyk. Jy’s nie daai kant toe op pad nie.” (bl. 190) Dit is die goeie raad wat Christoff vir Juanita gee, maar hy is self aan sy verlede geboei, net soos sy, hoewel as gevolg van gans ander omstandighede.

Die boek spog met ’n splinternuwe baadjie wat my herinner aan die voorblaaie van John Green. Boonop is titels in haterwillevanjoundgeskrewe lettertipe blykbaar gewild in 2020.

Ter wille van jou is presies die tipe storie wat ek nie graag neersit nie. Dit het die nodige liefdeselement sonder grafiese tonele of voortydige seks, ’n held uit een stuk, wat boonop aantreklik is en ’n heldin wat stelselmatig oorwinning kry oor ’n traumatiese hoofstuk in haar lewe. Verder het die skrywer haarself uitgedaag om dieper as die gewone romanse te delf en het ’n weldeurdagte samesweringkomplot teen Christoff as agtergrond bygewerk waarteen die mooi liefdesverhaal afspeel. Van meets af aan was daar ’n duidelike spanningslyn, maar sonder die “blood and gore” wat soms te erg raak vir my as redelike sensitiewe leser. Magdalene Walters verseker hiermee haar plek as een my gunstelingskrywers in die romantiese genre.

Indien jy in hierdie tyd van inperking op soek is na iets wat jou aandag gaan aflei van die onsigbare gevaar in ons midde, kan ek die e-boek weergawe hiervan sterk aanbeveel. Andersins kan jy dit met gerustheid op ’n te-koop-lysie plaas vir wanneer dinge na normaal terugkeer.