Nie alleen het ‘n vriendin van ouer as sestig jaar, Annelie Botes se Kammaland vir my aanbeveel nie, sy het ook vir my haar kopie in die hand gestop en aangemoedig om te gaan lees. Daarom kan ek dit nou met groot genoeë afmerk op ons Lekkerleesboekrak se leesuitdaging nommer 23. Op die Popsugar Uitdaging kwalifiseer dit vir nommer 24, synde ‘n boek oor ’n onderwerp waarvan ek niks geweet het nie.

Annelie en haar ou gryse pak ’n lang bootreis (374 myl) op die Engelse kanale aan wat een en negentig dae duur. Ek het nie eers geweet dat daar soveel kanale is nie, wat nog geweet van Rodney Boaters en sleeppaaie en die Canal and River Trust. Ek het nie geweet van lewensgevaarlike sluise (194 daarvan op hulle roete) en swane en eende wat die bote volg in die hoop op ’n brokkie brood nie.

Oor Annelie se skryfvernuf hoef ek geen woord te sê nie, want daarmee is ons reeds lankal bekend. Ek kan net sê dat dit ’n stukkie lewensgeskiedenis is wat met soveel emosie belaai is, dat ek soms baie swaar moes sluk. Die kontras tussen die vreedsaamheid op die kanale en die lewe in Suid-Afrika, verwoord sy só goed tussen haar eie trane deur, dat ek glo dat ’n leser beswaarlike onaangeraak kan bly. Die opregtheid en eerlikheid tref jou soos ’n hou teen die bors.

Hoe ironies dat ek juis nou hierdie boek moet lees, terwyl Suid-Afrika, en die res van die wêreld in die greep van ’n dodelike virus is. Op bl 153 skryf Annelie Botes: “Masels is dodelik aansteeklik. Mag God Suid-Afrika behoed.  I see a bad moon a-rising. I see trouble on the way.

Ek was gretig en haastig om te sien hoe die reis uiteindelik verloop en klaarmaak, maar soos Anschen Conradie altyd sê, hierdie een moet saam ouetehuis toe. Ek sal my eie kopie mettertyd moet aanskaf, maar dankie, Jeanné, vir die geleentheid om saam met Annelie Kammaland toe te vaar.kammaland