Ambisieus, waagmoedig … Dit is die eerste begrippe wat by my opkom wanneer ek besin oor Lizelle von Wielligh se eerste SuperRomanza, Strykstok van die hart. Daar is ’n hele rits uiters omstrede onderwerpe, soos rasseverskille en veral klasse-onderskeid, wat die kern uitmaak van hierdie liefdesverhaal, sake wat steeds uiters relevant is in die moderne eeu waarin ons leef, hoewel hierdie verhaal in die 1800 afspeel.

Die stem wat gegee is aan die jong Annabelle was vir my oortuigend. Haar kinderlike geloof dat daar ’n hasie op die maan is het my met nuwe oë na die onlangse volmaan laat kyk. Die stem het gegroei saam met die karakter, tot waar sy reeds ’n jong volwassene is aan die einde van die storie. Die sterk kontras tussen die welvarende Hendrik en die slaweseun, Kaleb, het gesorg vir ’n spanningslyn wat regdeur volgehou is. Die storie agter die storie, die voorgeskiedenis van die randkarakters, was ook deurgaans interessant en getuig van navorsing wat gedoen is oor die omstandighede waaronder die slawe geleef het, en die impak van nuwe slaweordonansies op die slawe-eienaars. Ook van die mate van respek wat kinders toendertyd vir hulle ouers gehad het.

Die karakters wil nie summier groet met die neersit van die boek nie. Ek wil my verstout om te wonder of daar dalk in die toekoms meer van Schalk-Willem te vertelle sal wees? Ek dink ons gaan nog baie hoor van hierdie relatief nuwe skrywer in die romantiese genre.strykstok