Een van die uitstaande kenmerke van ’n goeie skrywer, ongeag die genre, is die vermoë om in ’n enkele sin ’n omvattende beeld te skep van ’n situasie. Vergelyk die woorde op bl. 26: “Oorwonne sak hy op die naaste bank neer…”  Nie alleen plaas dit die karakter in ’n bepaalde ruimte nie, dit laat ook iets van sy persoonlikheid en gemoedstemming deurskemer sonder om ’n rits woorde te gebruik.

Dit is dan ook een van die redes waarom ek besonder baie gehou het van Marilé Cloete se nuutste Romanza, Nooit weer winter. Ek het persoonlik nie veel erg aan literêre meesterlike uitlatings wat my vir ure laat wonder oor die waarheid agter die woorde nie; ek wil lekker lees, maar met goeie taalgebruik wat my telkens verras met die goeie keuse van woorde.

Die keuse van die titel was in die kol. Die hoofkarakters se negatiewe gevoelens jeens die winter was oortuigend. Dit het my herinner aan my skoonma se droefgeestigheid wanneer die herfsblare begin val , juis as gevolg van traumatiese gebeure in daardie winterseisoen.

Die karakters se teenstrydige geaardhede was verfrissend. Daar was al genoeg helde en heldinne wat perfek by mekaar pas. Die ekstrovert wat heimlik worstel met onsekerhede, en die introvert wat sommer net doodgewoon ’n fantastiese en standvastige held was, het oorgenoeg verskille gehad, maar uiteindelik was die liefde die gelykmaker.

Dan het ek ook die beskrywing van die toer baie geniet; dit het nie soos ’n bemarkingsbrosjure gelees nie, maar tog ’n wonderlike idee gegee van ’n deel van Afrika wat ek nog nie besoek het nie. Kortom, ’n baie geslaagde Romanza na my mening.