Daar is al baie geskryf oor heldinne in liefdesverhale wat verander het van hulpbehoewende poppies na karakters met selfvertroue en oemph. Ek lees nou ’n ander interessante tendens raak, en spesifiek in die skrywes van Marilé Cloete, naamlik dat die held nie noodwendig onkreukbaar is nie. Hy mag byvoorbeeld aan depressie ly, hy mag ’n terapeut benodig om hom deur ’n krises te begelei, en dit sonder om sy manlikheid en sy aantreklikheid prys te gee.

Roelien is ’n versorger wat haar voortvarende mond moeilik in bedwang hou as sy opmerk dat iemand swaar kry. Gee haar ’n buurman, ’n baie aantreklike een op die koop hoogsomerliefdetoe, wat duidelik swaar trek aan verlies en trauma, en ’n hond wat hy nie kan hanteer nie, en die tafel is gedek vir ’n heerlike romanse om te ontkiem. Om die storie interessant te hou, is daar nog ’n alleenloper op die dorp wat belang stel in Roelien. Ek het egter gehou daarvan dat daar nie té veel woorde aan daardie aspek toegestaan is nie. Dit wys vir my dat die deurwinterde romanseskrywer weet wat haar lesers gaan gelukkig hou.

’n Pluimpie aan die skrywer, wat self ’n lang vrou is, en haarself baie kostelik ingedink het in die dilemma van kort vrou en lang man. Ek het dit oortuigend gevind, en ek sal weet, want ek het ’n man wat ’n goeie voet langer is as ek.

Die vakansietyd is wel verby, maar maak gerus tyd om hierdie Romanza te lees. Die bywerk van die gewilde Parkrun maak dit lekker relevant, en mag dalk selfs ’n paar lesers inspireer om hierdie somer meer aktief te raak.

Advertisements