Op sewe en twintig weke, word Charmé Kriel gediagnoseertweekinders met pre-eklampsie, ’n lewensgevaarlike situasie vir die ma en die baba. Wanneer haar piepklein baba van 850g met ’n noodkeiser gebore word, word Charmé die ma van ’n premature baba. Sy neem die leser op ’n eerlike reis, met al die emosies, goed en sleg, wat sy leer ken in die maande wat volg.

Daar is byvoorbeeld die skrik van die SATS-monitor se alarm, waarvan sy skryf: “Daardie alarm dring deur jou brein en skuur net langs jou hart verby, tot binne-in jou siel.”(bl. 52). Daar was die ontsteltenis om mammas met gesonde babas te sien. Die hartseer omdat sy nie ’n babatee gehad het nie. Daar was ontmoetings met engele in menselywe. Baie wonderwerke. Baie uitdagings.

Charmé se verhaal het my onwillekeurig laat seëninge tel, maar die boek is selfs meer as dit. Dit bevat ook belangrike lesse oor ’n mens se algemene ingesteldheid teenoor die lewe. Hoe futiel dit is om altyd perfek te probeer wees, dat dit in orde is om te erken dat jy nie altyd sterk is nie. En dan die wonderlike ontdekking waartoe sy uiteindelik kom: die dag wat sy besef het dat sy nou MA is, nie meer die ma van ’n premature baba nie.

Die opregtheid waarmee Charmé haar storie vertel, sorg dat jy nie graag die boek wil neersit nie. Jy wil saam met haar lag en saam met haar ’n traan pik. Dit word uitgegee deur Lux Verbi en sal spreek tot ’n wye spektrum van lesers.

Advertisements