Santie van der Merwe se sewende roman het sopas die lig gesien. Dit het nie meer as ’n bladsy geverg om te onthou waarom ek versot is op Santie se skryfwerk nie. Sommer vanuit die srosetaanspoor kom gryp dit jou aan die hart, want dit is régte mense met rou emosies wat hier uitgebeeld word.

Ek het nog maar skaars veertig bladsye gelees, want die wêreld wil opsluit nie gaan stilstaan omdat ek nou niks anders sou wou doen as om met die boek iewers te gaan wegkruip nie. Tog is ek reeds verstom oor die knap wyse waarop die skrywer die karakters een vir een aan die leser voorstel, elkeen kompleet met sy eie stem en eie bagasie; hoe grepe van elkeen se voorgeskiedenis laag vir laag afgeskilfer word.

Die sombere gebeure waarmee die verhaal afskop, word gelouter deur die skrywer se puik aanbiedingstyl. Elke hoofstuk het ’n kernwoord of kort sin as opskrif, asook die naam van die karakter wat fokaliseer. Dit verskaf struktuur en verhoog die leesbaarheid.

Ek besef dit is voortydig, maar ek sal baie verbaas wees as ek uiteindelik nie ’n baie goeie punt kan toeken aan ’n Goeie jaar vir rose nie.

Advertisements