’n Belofte vir Bippie is die tweede verhaal in die reeks wat afspeel in die dorp McGregor. Ons het alreeds vir Reina, Larissa, die tantes en oom Frik, Derek en Gideon ontmoet in ’n Brief vir Reina, en vlugtig kennis gemaak met Riekert Tredoux. Ek sal aanbeveel dat indibippieen moontlik, Reina se storie eerste gelees word. Ek het dit herlees, met groot vrug.

Die issues waarmee Bippie en Riekert worstel, en baie bagasie uit hulle onderskeie kinderjare, maak vir interessante leesstof en ’n mooi liefdesverhaal wat ontvou. Dit word vertel vanuit ’n Christelike oogpunt en daar word ruim aangehaal uit die Woord. Die deurlopende tema is die mooi eindbestemming waarheen ’n ompad of afdraaipad in jou lewe kan lei as jy bid en luister voordat jy optree.

Daar was net een aspek wat my leesritme telkens versteur het: die herhaalde gebruik van die uitdrukking “blaf-lag”. Dit val net nie gemaklik op my oor nie.

Dit was interessant dat daar nou nog ’n alleenloper mansfiguur in die storie verskyn het, wat die speelveld wyer maak vir die derde aflewering in die reeks, waarna ek baie uitsien. Die reeks word uitgegee deur Lux Verbi.

Advertisements