Wat jou siening ookal is oor orgaanskenking, reïnkarnasie, tydreise, toekomsvoorspellings, ek kan byna waarborg dat jy meegevoer gaan word deur ’n verhaal van jong liefde wat strek oor meer as drie honderd jaar. Die verhaal boei van die eerste bladsy af, waar Madelaine deelneem aan haar eerste wedloop sedert haar hartoorplanting. Jy beleef saam met haar die angs van ’n hartstilstand, en haar eerste vreemde gewaarwording van ’n Franse meisie wat met haoopmondar praat.

Die storielyn neem jou van die huidige, na die Ango-boereoorlog tot sover as Franse vlugtelinge wat in 1696 Kaap toe gevlug het aan boord van die skip, die Vosmaer. Jy reis per tydmasjien en keer natuurlik telkens weer terug na Madelaine se verwarrende realiteit, en Brand wat met sy stamboeknavorsing al hoe meer lig werp op die karakters wat die voorgeskiedenis van die twee jongmense uitmaak.

Dit is ’n uitdagende lees, vir jong sowel as ouer volwassenes. Die trauma wat deel uitmaak van orgaanontvangers se lewens, ruk ’n mens. Nie slegs die pasiënte word daardeur geraak nie, maar ook die families van skenkers en ontvangers. Die ontknoping is netjies gedoen, met die karakters wat as’t ware ’n volle sirkel voltooi.

Oopmond was die LAPA Jeugromankompetisie wenner in 2017, en ek kan heeltemal verstaan waarom.

Advertisements