Die belang van spanwerk, is die tema van Sneeuwitjie, die sokkerster. Dit is nog een van die Sprokies met lesse reeks van Human & Rousseau. Die sprokiesvriende maak gereed vir ’n sokkerwedstryd teen die buurdorp se trolle. Sneeuwitjie maak haarself ongewild deur selfsugtig te speel. Repelsteeltjie word op aanbeveling van tweesprokiesdie goeie fee, Esmeralda betrek as afrigter en hy leer die kinders om as ’n span saam werk.

Die boek bevat weer die gewone besprekingspunte om die begrip van spanwerk mooi by die jong kinders tuis te bring. Ook die gebruiklike handwerkaktiwiteit, hierdie keer die maak van ’n klaskoerant, met geleentheid vir teken en skryf, vir die wat al skryfvaardig is.

Doringrosie se verhaal leer die jong maats hoe belangrik dit is om verantwoordelik op te tree en nie lui te wees nie. Sy het haar ouers belowe om self haar ponie, Prins, te versorg, maar mettertyd het dit darem té harde werk geword. Sy leer ’n harde les wanneer Prins wegraak.

Esmeralda, die goeie fee, moet weer help, hierdie keer met behulp van ’n spesiale blink rooi appel wat Doringrosie buite sy stal moes los. Eers moes Doringrosie egter erken dat sy nie haar verantwoordelikheid nagekom het nie.

Die illustrasies van Flavia Sorrentino is deurgaans besonder goed, met genoeg detail om die lesertjies se aandag gevange te hou. Sue Nicholson se teks is in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys, en is geskik vir voorlees of vir vroeë selflees.

Advertisements