Met haar nuutste SuperRomanza, Verlore skatte, bewys Malene Breytenbach, ’n ervare skrywer bekend vir haar liefdesverhale, dat sy gemaklik is om die genre te strek om soos ’n avontuurverhaal te lees. Sy neem die leser saam op ’n gevaarlike en fassinerende ekspedisie na die Amasone-reënwoud.

Die karakters is elkeen interessant in eie reg. Daar is Frances, ’n botanis, Riek wat ’n herpetoloog is, en ’n Britse argeoloog wat die ekspedisie lei. Die res van die groep bestaan uit ’n antropoloog en ’n vryskut skrywer en fotograaf, ene Jack Berry, wat blyk die held te wees, nie alleen in Frances se oë nie, maar dié een wat planne maak en sorg vir hulle veiligheid. Die borg, en ook die gids wat hulle vergesel, is ongure karakters met verskuilde agendas.

Die beloofde ontdekkingsgeleenthede realiseer nie vir die akademici nie, en tot hulle skok moet hulle agterkom dat die ware doel van die ekspedisie nie geopenbaar is nie. Hulle moet uiteraard ontberings deurstaan, en uiteindelik verstaan waarom soveel mense nooit terugkeer uit die reënwoud nie. Buiten kaaimans, spinnekoppe, anakondas en vloede, is ’n wesentlike gevaar die mens se gierigheid en leuenagtige natuur. Maar lees gerus self en kom agter wat ek daarmee bedoel.

Gegewe die indrukwekkende studievelde wat die skrywer voorheen bemeester het, is ek nie verbaas dat sogenaamde antieke en verlore stede in haar skryfwerk gaan opduik nie. Ek sal nie omgee as ons in die toekoms meer daarvan uit haar pen kan lees nie.

verlore_skatte_rgb_1