Ek het al voorheen opgemerk dat daar ’n besliste tendens is om opvoeding en lewensvaardighede storiegewys aan kinders oor te dra. Human & Rousseau se reeks Sprokies met lesse is vir my besonder oulik. Die skrywer is Sue Nicholson en in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.Die volkleur illustrasies van Flavia Sorrentino maak die boeke besonder aantreklik.

Jan breek die boontjierank is ’n storie oor eerlikheid. Jan is ongehoorsaam en vertel dan boosprokiesnop ’n leuen wanneer sy ma hom konfronteer. Die belangrikheid om die waarheid te praat, word beklemtoon deur sy ma wat hom vergewe wanneer hy gaan bieg oor sy misstap.

‘n Verdere pluspunt is ’n lys van besprekingspunte aan die einde van die boek, asook praktiese aktiwiteite wat uit die verhaal vloei. In hierdie geval ’n “brief” aan Jan se ma waarin hy verskoning vra omdat hy die boontjierank gebreek het en vir haar gejok het. Die kinders word aangemoedig om ‘n bladsy te versier met tekeninge en plakwerk.

Die volgende in Human & Rosseau se reeks, Sprokies met lesse, se hoofspeler is Aspoestertjie, wat baie vir ander omgee. Ander sprokieskarakters wat weer ’n rol speel, is Doringrosie en Sneeuwitjie en natuurlik die goeie fee, Esmeralda.

Daar word ’n nuwe dansskool oopgemaak op die dorp, en almal kry balletskoene, almal behalwe Aspoestertjie. Ook haar stiefsusters, Rosie en Poppie, kry pienk balletskoene. Aspoestertjie gaan bekla haar lot by Esmeralda, en word aangeraai om vrolik en besig te bly. Gaan haar omgee vir ander, uiteindelik vrugte afwerp? Ek glo ons jong maats gaan lekker lees of luister, en dan die handwerkie geniet, die maak van ‘n omgeeboom. Daar is weer ’n lys met relevante besprekingspunte om die begrippe te bevestig by die kinders.