Die romanse is by uitstek dié genre wat aan ’n skrywer carte blanche verleen om toeval na hartelus in te span om ’n storielyn te vestig of uit te bou. En dit boonop te doen sonder dat kritisi daaroor mag frons. Wat ’n romanseskrywer maak met toeval is vir my altyd baie interessant en aanduidend van hoe ryk haar verbeelding is, en ook van die vaardigheid van die skrywer.

Dina Botha se Soen ’n vreemdeling kan my punt goed illustreer. ’n Toep wat vir Gabrielle lei na ’n vreemdeling om te soen, ’n romantiese plek soos die Eiffeltoring in Parys, ’n paarsoen__n_vreemdeling_rgb groen oë om oor te swymel, dit alles getuig reeds van ons skrywer se ryke verbeelding en blykbaar onuitputlike bron van idees. En dan die toeval: Gabrielle en ene Marcell Spencer se paaie kruis agt jaar later. Toeval wat romanselesers verwag en geniet.

My komplimente aan die skrywer vir die beheersde ontplooing van die plot. Dit sou nie so lekker gelees het as alles vroeër op die lappe gekom het nie.

Dit is jammer dat die daar ’n klein foutjie deurgeglip het op bl 122: sy woorde was kripties, sekerlik nie krities nie, maar soos Gabrielle, behoort die lesers ook te snap wat bedoel is. Die beginsel van bie op ’n persoonlikheid, is weliswaar dalk al ’n bietjie oorbenut, maar hier word dit gelukkig nie oorbeklemtoon nie, en verskans agter ’n filantropiese motief. Ek penaliseer nie met meer as een punt nie.

Behalwe vir die boodskap dat ’n toevallige ontmoeting dalk meer as blote toeval kan wees, dra die storie ook die sentiment uit dat alle rykmanskinders nie onsmaaklike, bedrowe brokkies hoef te wees nie, en dat daar nie noodwendig altyd struweling in families is nie. Lekker, ontspanne leesstof.

Advertisements