Mamma, vandag is dit vyf en twintig jaar gelede. Ek onthou so goed hoe ek vroegdag gereed was om hospitaal toe te gaan, maar dit was asof iets, byna tasbaar, my weerhou het. Ek het lank daaroor gewroeg dat ek te laat was, dat die oproep van die saalsuster af eers gekom het nadat mamma reeds weg was. Mettertyd het ek besef dat die Vader beter weet as wat ons bedink en beplan. Dalk het Hy geweet dat ek nie op daardie laaste oomblik langs die hospitaalbed moes wees nie. Daaraan troos ek my.

mamma70Ek troos my ook daaraan dat verlange na pappa, kanker en osteoporose nie meer vir mamma saak gemaak het nie. Ek onthou die vreedsaamheid op mamma se gelaat toe ons kort daarna by die hospitaal gekom het.

Ek dank die Vader dat julle vir my, julle laatlamkind, kon grootkry; meer nog, ons twee dogters kon ken. Maar onthou, en bietjie huil wanneer ander nie kyk nie, sal ek altyd.