Praat van ’n kasteel en die deursnit romantiese Suid-Afrikaanse leser kry so ’n vêraf blik in die oog. Die meer avontuurlikes selfs ’n goeie skeut wanderlust. Want ons pragtige land het mos ’n ernstige gebrek aan kastele. Daarom dat ek gehou het van Frenette van Wyk se storielyn: sy plaas held en heldin, beide van Suid-Afrika, in ’n toergroep wat die Zilarra Rún  in die Baskiese lande gaan besoek.

sandkasteel.jpgDie skrywer bederf die lesers boonop met ’n les oor die bekendste kastele wêreldwyd, terwyl sprokies en legendes ook te sprake kom.

Daar was ongelukkig ’n paar dinge wat gepla het. Hoewel ons hier te make het met ‘n skrywer wat soveel as 23 Romanzas op haar kerfstok het, en hierdie haar vierde SuperRomanza is, was die hoofkarakters nie vir my genoegsaam ontgin nie, en daar was te veel herhaling, te veel verwysing na die held se uiterlike (veral sy oë) en dikwels galante, selfs heldhaftige optrede, terwyl die leser eintlik bitter min van sy geskiedenis wysgeword het.

Ek is van mening dat die spanningslyn wat geimpliseer is deur die legendes en raaisels van die kasteel, nie genoegsaam ontwikkel het nie. Ek dink dit sou lekker kon lees as ’n Romanza as die onnodige beskrywings en vrae oor die verlede én die toekoms, ingekort is, en die skryfstyl ’n bietjie minder formeel was. As die SuperRomanza dan steeds die aangewese formaat was, sou ek wou sien dat Remi ook fokaliseer, sodat die leser ’n duideliker beeld kon kry van wié hy is en wat hom na Zilarra Rún gedryf het.