“Haat is taai, soos ou stroop. Dit klou en word swart en die taaiheid gaan nooit weg nie.” (bl 297) Magdalena dra haat en woede saam van kleintyd af. Plak nóg en nóg vars lae taaiheid bo-op, en jy kry ’n verhaal so ontsettend dat ek by tye getwyfel het of ek dit hoegenaamd moet lees. Daarom ’n besliste waarskuwing aan sensitiewe lesers om verby te hou.

Madelein Rust het haarself al bewys as ’n skrywer wat nie wegskram van die donker en verwronge dieptes van die menslike psige nie. Doodsengel is haar sesde roman, en uit die aard van die deurlopende tema van geweld teen vroue, maar veral kinders, is dit vir my die mees ontstellende. Die gewetensloosheid en sadisme van verkragters en pedofiele word onverskrokke blootgelê. Wat my aan die hart ruk, is die afgryslike wete dat dit nie net die produk is van ’n begaafde skrywer se verbeelding nie. Dit gebeur daaglikdoodsengels en toenemend rondom ons, ten spyte van veldtogte en bewusmaking.

Soos haar vorige romans, is hierdie ’n blitsblaaier. Die komplot is so goed verweef dat ek deurentyd met afgryse gewonder het waar dit gaan eindig. Die skrywer het ’n ou Oosterse gevegskuns duidelik deeglik bestudeer en effektief ingespan om Magdalena ’n gevaarlike teenstander te maak, meer as net ’n prooi van boosheid.

My voorbehoude ten spyt, kon ek beswaarlik die boek neersit wanneer ek genoodsaak was om so te maak. Ek is oortuig dat die karakters in Doodsengel nog vir ’n tyd by my gaan spook. As jy die moed het, lees hom!

 

 

Advertisements