Die eerste wat opval is die pragtige voorblad. Begin dan lees aan Altyd wink die liefde annaen kom gou agter dat die titel ook heel van pas is. Liefde wag op onwaarskynlike plekke. Soos Ronel in Nuwe Seisoen uitvind, wanneer sy as adjunkhoof op ‘n klein dorpie begin werk, en haar teen ‘n buffelagtige nuwe skoolhoof vasloop. Die waarnemende hoof blyk egter die ware antagonis te wees en die hoof glad nie die buffel waarvoor sy hom aangesien het nie.

In Tussen twee vure vind ons die klassieke “mistaken identity” wanneer Helette aangesien word vir ‘n aansoeker vir ‘n au pairpos. Sy beland in die spervuur tussen twee broers, maar ook haar eie verlede lewer verrassings op.

Die derde verhaal in die omnibus is Raaiselvrou. Emma wyk uit na ‘n gasteplaas om in rustigheid ‘n boek te skryf, maar hou nie rekening daarmee dat die boer haar lewensuitkyk, trouens haar hele lewenswyse, gaan verander nie.

Altyd wink die liefde is Anna van Tonder se eerste omnibus. Die drie afsonderlike Romanzas het voorheen verskyn onder die naam Annetjie van Tonder, en sal aanhangers van hierdie genre laat lekker lees.

Advertisements