Lapa Uitgewers het ’n behoefte geïdentifiseer, ’n spesifieke nis iewers tussen die nou goed gevestigde lekkerleesverhaal en literêre fiksie. So is Wenkbrou gebore. Die naam impliseer dat dit aanvegbare onderwerpe gaan dek, idiologieë, leefwyses of denkpatrone wat die leser gaan uitdaag.

Ek voel dat gelukwense in orde is. Die debuut onder hierdie smitmotorsvaandel, Réney Warrington se Smit motors, pas een honderd persent in daardie gleuf. Die buiteblad is werklik besonder treffend, deur die skrywer self ontwerp. Dit vertel die verhaal van Petra Smit wat ’n werkswinkel op die platteland erf. Terwyl haar doel is om dit te verkoop, begin sy nietemin orde skep, skoonmaak, opknap.

Die uiteenlopende karakters wat rondom Petra skaar, maak die storie baie kompleks, dikwels ontstellend. Daar is Arno met sy groot lyf en kinderlike verstand. Monty, ’n kleuter wat verniel word deur sy ouers. Van Tannie Naude, Arno se ouma, dink Petra op ’n stadium: “Dit is nie sy wat die dorp uithou nie. Dit is die dorp wat nie wil inkom nie.” (bl 213). Dit som my belewenis van die boek eintlik perfek op. Ek het reeds binne die eerste hoofstuk besef dat ek die storie en die karakters sal moet toelaat om “in te kom”, die verhaal nie te beoordeel aan my persoonlike oortuigings nie. Gegewe daardie voorgenome ingesteldheid, kon ek verby die kras taal lees, in die gay verhouding twee mense raaksien wat werklik vir mekaar en vir ander omgee. Ek kon sidder oor die wreedheid van mense. Maar uiteindelik moes ek aan die verhaal ’n welverdiende 4/5 gee.

 

Advertisements