Kombineer die woordvaardigheid van Nadia de Kock en die kreatiwiteit en talent van Hilda Steyn, en die uitkoms is ’n hekelboek van ’n heel unieke aard. Voeg nog daarby een en twintig ware lewensverhale, en dit word veel meer as ‘n handwerkboek. Die stories is uiteenlopend, die gemene delers die trauma, verlies en ontnugtering wat die betrokke mense en gesinne beleef het. Die mooi lê egter in die getuienisse van hoe hekel elkeen uit die diepste depressie en vertwyfeling gehelp het. Keer op keer lees ek dat die ritme van die hekelaksie, die tel van steke, selfs die gevoel van die jaarn, wondere verrig vir die gemoed wat swaar trek. Baie van die mense het ook in hulle onderhoude vertel van die bevrediging om vir ander gehekelde artikels te maak.
Ek hou baie van die volledige tabel met Afrikaanse, Britse, en Amerikaanse hekelterme, asook simbole wat in diagramme voorkom. Ek het summier een van die patrone op die proef gestel en die blom van die Sigeurnerroos-kopband gemaak. Ek het die tabel geraadpleeg waar die Afrikaanse terme my gepootjie het. Dit is ’n pluspunt dat die geskrewe patrone, sowel as diagramme beskikbaar is.
Die patrone is vars en modern en daar behoort iets vir elke smaak te wees. Die volkleurfoto’s is besonders; die fotograwe en modelle verdien beslis ‘n pluimpie of tien. Ek kan regtig nie ’n rede vind om die boek nie 5/5 te gee nie.
Ek is so bly oor hierdie skrywe van jou, ek is al lankal lus om dit vir my aan te skaf.
Nogal n besondere boek, paar mooi komberse ook
So daar is mooi patrone ook in.
Daar is 21 stories en 21 patrone. Ek is nou besig met n sigeuner kopband. Hilda het op Radio Pretoria gesê aan die einde het hulle elke stuk vir die vrou gegee van die storie waarby dit geplaas. Hulle het projekte gekies waarvan die vrou sou hou
Interessant