Ek het my geskaar by die menigte Chanette Paul-aanhangers en met groot verwagting uitgesien na die eerste in die Vywervrou-trilogie, en wel die verhaal van Lira. Ek het verder my tande geslyp vir ’n boek van meer as 500 bladsye vir die #Lekkerleesuitdaging. Die hoop het nie beskaam nie.

Die lees daarvan het my herinner dat ek matelose respek het vir ’n skrywer wat ’n verhaal van hierdie omvang en diepte kan voortbring. Daar is ’n menigte karakters, elk met sy eie bagasie en voorgeskiedenis, en die storielyn verslap op geen stadium nie. Telkens word daar nog ’n stukkie intrige oopgeskryf wat die leser kompulsief laat blaai. Die kaLirarakters het elk sy of haar eie stem en oortuig ten volle.

Opskrifte wat aangebring is wanneer tyd, plek en fokaliseerder verander, help die leser om kop te hou deur 573 bladsye.  So ook die lys van karakters vooraan.

Hoewel daar elemente van gesinsgeweld, selfs moord, voorkom, wyk dit af van die meer onlangse reekse van die skrywer, in dat dit as verhoudingsroman geklas kan word, eerder as spanningsroman. Die skrywer is ewe tuis in beide genres. Sy is ook geen onbekende met die skep van ’n legende nie. Die legendariese vywervrou met haar visstert en die lot wat haar te beurt geval het, word soomloos met die storie verweef.

Ek wil niks noem om die storie te verklap nie, hoewel daar soveel is wat ek sou wou aanhaal. Ek sal volstaan daarby om te sê dat ek verskriklik opgewonde is om te sien dat die volgende twee vywervroue se verhale ook vir hierdie jaar geskeduleer is.

 

Advertisements