Van poësie kan die kat en sy safraan my waarskynlik nog iets leer. Matriekletterkunde lê immers baie ver in die verlede, maar Bibi Slippers het my laat moed skep. Sy beweer dat poësie ervaar moet word, eerder as verstaan word.

Hierdie interessante mensie het vanoggend opgetree as gasspreker by die Vriende van die Kempton Park biblioteke se maandelikse leeskringbyeenkoms. Haar bekroonde digbundel, Fotostaatmasjien, was die boek onder bespreking. Bibi het aan die hand van verskeie gedigte wat sy self voorgelees het, aan die dames ‘n kykie gegee in die proses wat die boek voorafgegaan het.

Die bundel is die produk van haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns en het baie jare en baie navorsing geverg. Dit is ’n kombinasie van navorsing oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en mense, en haar persoonlike lewe. Sy bely ook haar beheptheid met fotostaatmasjiene, en hoeveel fotostate sy op ’n stadium opgegaar het.

Sy haal ’n treffende beeld aan uit Ruth Padel se boek, The poem and the journey. ’n Gedig word vergelyk met ’n trampolien wat kan meegee. Sommige woorde plooi maklik, maar ander gee weerstand, moeiliker om te begryp.

Ek het nie self die bundel onder oë gehad nie. Sommige van die gedigte het blykbaar die potensiaal om lesers te ontstel, en van die dames het daaroor opmerkings gemaak. Bibi het in antwoord die stelling gemaak dat sy vir haar grense stel wat haar ruimte verbreed en dat sy haar nie kan aan bande laat lê deur lesers se grense nie.

Hoewel die digkuns baie verander het, meer toeganklik geraak het, waarsku sy dat dit steeds nie ’n genre is wat baie boeke verkoop nie.

Advertisements