Wat lesertipe aanbetref, huiwer ek iewers tussen sensitief en baie sensitief. Daarom dat die spanningsromans van Jan Vermeulen my iewers tussen die duiwel en die diep blou see vaskeer. Die voorblad en flapteks van sy nuutste roman, Ondier, het my alreeds senuweeagtig gehad. Aan die ander hand weet ek egter uit sy bekroonde jeugboeke en eerste riller vir die volwasse mark, Die vyfde Aspoester, dat hy ’n woordsmid van formaat is. Vir ’n goeie skryfstyl en mooi omgaan met ons taal, het ek matelose respek. Daarom het ek op my tande gekners en Ondier oopgemaak.

Uit ondervinding met ’n paar onlangse spanningsromans, was my mikpunt om die eerste eksplisiete en grusame hoofstuk te oorleef. Dan sou die storielyn my inslurp en belangriker word as die wrede detail. Dit is dan ook presies wat gebeur het.

Bondieraie gou kon ek die boek beswaarlik neersit. Die ontsaglike en blywende skade wat ondervindinge in die kleintyd veroorsaak, is die spil waarom die verhaal draai. Dit is waar van beide die reeksmoordenaar en die profileerder en sielkundige, Olaf Demeyer. In laasgenoemde se geval, word hy boonop gekonfronteer met die gevolge van sy vorige sekskapades, want DNS is onverbiddelik. Hy merk tereg op: “Partykeer is familieduiwels die wreedste.” (bl 42)

Ek wil voorstel dat die leser werklik met aandag lees, want die storielyn is veelvlakkig en gekompliseerd. Dit kan ook help om jou geheue te verfris met Die vyfde aspoester, omdat hierdie verhaal daarby aanhaak. Ondier kan egter ook op sy eie staan.

Die dapperes wat nie wegskram vir bloed en wreedheid nie, moet hierdie spannende roman nie by hulle laat verbygaan nie.

Advertisements