Toe ek ’n tyd gelede vir Madelein Rust ontmoet het, wou ek weet of sy werk aan ’n nuwe Renata Malan. Eers “iets anders”, was haar antwoord. Geen manier dat ek sou raai dat sy besig was om haar reis met borskanker neer te pen nie; trouens, geen manier dat ek kon vermoed dat sy kanker gehad het nie.

Kanker Schmanker is enige tyd net so boeiend soos haar spanningsverhale, want Madelein het ’n baie besondere taalvaardigheid wat nie beperk kan word tot een genre nie. Voeg daarby die nugtere en eerlike, soms humoristiesekanker, vertelling van haar belewenis van die hele proses, vanaf diagnose tot aan die einde van die behandeling, en ek kan waarborg dat die boek met moeite neergesit word. Ek het frases weer en weer gelees, soos die beskrywing van haar skoonma: “… sy is min van woord, maar haar oë is wel ter tale.” (bl 45).

Dit was vir my ’n nostalgiese lees, want ek het jare gelede hierdie kankerpad gestap saam met my ma, maar op geen stadium het dit my teneergedruk nie. Daarvoor is die aanslag van die boek te positief, selfs uitdagend. Swaar sluk of selfs trane afvee, dit gaan jy wel. Ek stem een honderd persent saam met die ontdekking waartoe die skrywer gekom het: “Ons bemoedig die lyers, ons vier die oorlewendes en ons eer dié wat gesterf het.” (bl. 106)

Elke vrou behoort hierdie boek te lees, maar ek sal ook die manne aanmoedig om te gaan kers opsteek by Jaun, die skrywer se man. Die waarde van ’n eggenoot se ondersteuning en begrip, kan nooit oorbeklemtoon word nie. Ook nie die onwrikbare vertroue wat die skrywer deurentyd gehad het in die genade van haar Here nie. Bravo, Madelein Rust, jy het kanker trompop geloop en nie gehuiwer om jou goeie en slegte dae met ons te deel nie. Kanker schmanker!

Advertisements