Ek lees baie boeke, uitstekende boeke, gemiddelde boeke, ongelukkig soms boeke wat my nie regtig aanstaan nie of doodgewoon nie werklik goed is nie. Maar van tyd tot tyd is daar ’n boek wat my vir ’n volle dag gevange hou, wat my binne sekondes kan laat huil en laat lag. Ek het op ’n Vrydagaand vlugtig vir Ove ontmoet, die ganse Saterdag sy pad met hom gestap, en die aand met opset die laaste paar hoofstukke gebêre omdat ek nog nie gereed was om hom te groet nie.ove

Ove het in my hart gekruip, nie omdat hy vriendelik of van nature behulpsaam is nie, inteendeel! Eerder omdat hy absoluut konsekwent is in sy optrede. Wat reg is, is reg en behoede diegene wat dan verkeerd is. Die skrywer het daarin geslaag om soveel lewenswaarhede en aktuele sake deur die oë en belewenisse van Ove, aan die leser oor te dra, dat ek aan die einde voel dat ek ryker is na die lees daarvan.

Ek het nie noodwendig saamgestem met al sy oortuigings nie. Ove was kwaad vir die Here en het nie die deursneë Christen se weerstand teen die gebruik van die Here se Naam gehad nie, ook nie die berusting dat die Here ’n hoër goed bewerk met alles wat Hy toelaat nie. Nogtans was daar ’n lojaliteit en diepe aan hom wat my as leser verstom het.

Die verhaal van Ove kan heelwat verskillende boksies tiek op die twee leesuitdagings waarmee ek besig is, maar ek gaan, vir die Lekkerleesboek se uitdaging, volstaan met ‘n boek uit ‘n ander taal as Afrikaans of Engels vertaal (uit Sweeds), en vir die Popsugar uitdaging gaan ek item 46 afmerk: ‘n boek met buitengewone hoofstukopskrifte. Die opskrifte, sou jy dit in isolasie lees, som die verhaal in kort op en is meesterlik gekies.

Dankie vir die leesvriende wat die boek aanbeveel het, en my aangemoedig het om dit te lees. Dit was elke minuut werd wat ek daaraan spandeer het. Ook die boete wat ek gaan betaal omdat ek dit nie betyds by die biblioteek terugbesorg het nie!

 

Advertisements