Geluk… Dit is wat ek beleef het sedert ek vir die derde maal gaan aandoen het by Madelie Human se kusdorpie, Fynbos. Dit spruit myns insiens uit die kultuur van omgee en opheffing wat die skrywer vir ons skilder. Skakerings, wat begin het as ’n klein tuisonderneming in die tekstielbedryf, skep werk vir talle inwoners van Fynbos met die kleur en weef van wol en die maak van handgemaakte artikels, die patrone waarvan deur hulle eie ontwerper opgetower word.

Omdat ek self versot is op hekelwerk en betrokke is by ‘n bedieskakeringsning wat uitreik deur gehekelde blokkieskomberse, kan ek my vereenselwig met die terapeutiese aspek van handwerk. Die skrywer maak dit ’n integrale deel van die storielyn.

Wat verder bydra tot die gevoel van vergenoegdheid by die lees van Skakerings van geluk, is die feit dat daar nie regtig noemenswaardige antagoniste is om die bloeddruk op te jaag nie, ook nie moordenaars om jou te laat naels kou nie. Om die verhaal geloofwaardigheid te gee, is daar darem ’n insident van vandalisme; Fynbos is immers in Suid-Afrika. En ja, daar is ouers wat foute gemaak het, sommige gewoonteoortreders op die koop toe. Ook karakters wat hard wroeg met vooropgestelde oortuigings, maar nie soveel so dat die leser moedeloos word nie.

Madelie Human is ‘n deurwinterde skrywer van liefdesverhale, dus hoef ek nie eers te noem dat die skryfstyl heerlik vlot nie. Aan ervaring met die skryf van reekse, skiet sy ook nie te kort nie. Skakerings van geluk volg op Skakerings van hoop en Skakerings van liefde. trilogieDit het vir my gevoel na tuiskoms wanneer Anina, Nadia, Sylvia, Eleanor en ander karakters uit die vorige boeke, deurentyd ’n rol speel in hierdie derde aflewering oor Fynbos en Skakerings. Dit sal gaaf wees vir lesers om die reeks van voor af te lees, maar as dit nie kan nie, gun jouself gerus hierdie stukkie geluk.

Advertisements