By Lapa Uitgewers kyk hulle gereeld na nuwe konsepte om liefdesverhale aan die lesers te verskaf. ‘n Paar jaar gelede is RomanzaLiefde gebore. Die formaat was liefdesnovelles wat aanvanklik in tydskrif formaat uitgegee is, vier of vyf novelles per uitgawe. Die idee het beperkte sukses gehad. Dalk deels omdat die tydskrif relatief duur was, want daar was nie advertensies in nie. Dan was daar lesersfrustrasie omdat die tydskrif nie by ‘n dorp se supermarkte beskikbaar was nie.

Die span by Lapa het koppe bymekaargesit en steeds geglo aan die konsep, maar in ’n nuwe formaat. Sederdien verskyn daar maandeliks twee RomanzaLiefde e-boeke, elk met ’n novelle en ’n bonuskortverhaal, teen ’n sakpasprys.

Maar steeds het die kreatiwiteit gewoekstrooisuikerer: In Maart 2019 verskyn die eerste bundel met ’n versameling van agt novelles wat voorheen onder die naam RomanzaLiefde verskyn het. Ván hulle was in die tydskrifte, en selfs van ons nuwere skrywers, soos Lizelle von Wielligh en Petronel Louw, het plek gekry in Strooisuikerliefde. Rika Cloete het gedebuteer in ‘n gans ander genre, maar hier lyk sy tuis met haar liefdesverhaal. Ander name is ou bekendes soos Didi Potgieter, Jacolet van den Berg en Bernette Bergenthuin, terwyl Corné La Camera en Nadia de Bruin die getal volmaak.

Lesers wat dus nie graag elektroniese boeke lees nie, kry nou die geleentheid om ’n keur van die novelles te lese te kry. Die boek is wel dik, maar dit lees maklik omdat dit in agt verteerbare stories opgedeel is. Dit gee die leser ’n handige verskoning om “net gou” enetjie klaar te maak!

Ek hoop dat ons in die toekoms meer van hierdie bundels op die rakke sal sien.

 

Advertisements