As tema vir haar eerste SuperRomanza, kies Magdaleen Walters ‘n baie sensitiewe onderwerp, en ’n minder as perfekte heldin. Inteendeel, Annabeth is oorgewig, tot dié mate dat dit haar gesondheid, beweeglikheid en lewenslus bedreig en haar vervreem van haar familie. Sy het ’n bondgenoot in haar skoolhoof, wat haar altyd met respek en … iets waaraan sy nie ’n naam durf gee nie, behandel. Dit maak haar egter ook die teiken van die onderhoof, wat self haar kleim daar wil afsteek. Sy stem in om ’n studieobjek te word ligamanvir Sybrand, wat haar begelei om te oefen en haar eetpatrone te verander. Die twee sterk manskarakters sorg vir genoegsame misverstand en konflik om dié deel van die verhaal buite die gewigskwessie, interessant te hou.

Die skrywer toon kennis en empatie met die probleem van vetsug en gesonde alternatiewe om suikerverslawing hok te slaan. Annabeth se stryd oortuig, sonder om melodramaties te wees. Trouens, dit is inspirerend om die pad met Annabeth te loop, soveel so dat ek ’n slaai bo ’n broodjie gekies het vir middagete. Verder balanseer die skrywer die noodwendige pyn en trane met ’n goeie skeut humor van tyd tot tyd.

Die voorblad van die SuperRomanza is een van die mooistes wat ek onlangs onder oë gehad het, maar ongelukkig hou dit nie vir my verband met die karakters nie. Daar is ook ‘n fout met ‘n naam op bl. 279, maar ek kan steeds nie anders as om die boek volpunte te gee nie.

Advertisements