Magrieta het ‘n wesenlike probleem. Die vraag is nie wat die probleem is nie maar hoe dit gaan eindig! Om die storie te verduidelik, moet ek eers die ” set up” verduidelik. Sy bly op ‘n plaas met twee woonhuise. Sy self bly in ‘n pragtige woonstel wat aan die een huis vasgebou is. Alhoewel die woonstel piepklein is, is dit pragtig en pas perfek by haar persoonlikheid en die seisoen in haar lewe. Sy is gelukkig en tevrede. Daar is niks in haar kleine huisie wat haar ontstel of pla nie. Daarvoor sorg sy en hou alle onnodige spanning en komplikasies uit die veilige hawe wat sy vir haarself geskep het. Indien sy geselskap nodig het, is dit binne bereikbare afstand. Andersins is sy heerlik privaat en op haar eie.

Maar wag, hoor ek “Jaws”se doem doem doem doem….. in die verte? Of nee wag, eder ‘n gepiep piep piep, of wag ‘n miaaauuuuu?!? Dis reg, ‘n rot. Nie ‘n muis nie, ‘n ROT! Genadelik is die eienares van die plot gaaf genoeg om ‘n kat vir haar te leen as teenvoeter. Dis haar beste muisvanger en sy bring dit sonder verwyl oor.

Kat het egter die hele doel van die oefening gemis. Magrieta is nie groot gemaak as diere liefhebber nie en veral nie van katte nie (Diereplesiere). Daar het egter al twee diere vir Magrieta die loef afgesteek. Alhoewel Magrieta nie net wil misbruik maak van die kat nie, wil sy eintlik maar haar afstand handhaaf. Net vir ingeval. Kat het egter haar eie prentjie en volg haar eie kat natuur. Sy is onder die wan indruk dat Magrieta spesiaal vir haar wat Kat is, se plesier daar. Kat dring haarself met mening op aan Magrieta. Waag Magrieta om te loop, is Kat daar. Tree vir tree, soveel so dat sy kort kort oor Kat struikel. Dis ‘n gepurrr en geskuur en getrap en wie weet wat mens al die manewales moet noem. Purrr jouself sê sy maar Magrieta se hart wil wil vermurwe. Waar sy op haar bed sit, laat sak sy kort kort haar hand en vryf Kat se kop. Kat is in die sewende hemel en trek Magrieta se hand nader met haar poot wanneer Magrieta ophou vryf. Daar is ‘n lastige gevoelentheid wat krap krap aan Magrieta se hart. Dit lyk egter of die kat oefening gewerk het omdat rot nie weer sy astrante opwagting gemaak het nie. Hopelik verkeer rot onder die wanindruk dat Kat ingetrek het, soos in permanent. Behoede my!!

Magrieta is baie bly. Met rot uit die pad, kan Kat ook verkas. Vir sy alewige gekerm en geskuurdery sien Magrieta ook net nie kans nie. Sy voeg ook dus daad by die woord en vat Kat terug na die Hoofhuis toe net die volgende oggend. “Terloops, wat is Kat se naam?”, vra Magrieta. “Magriet”, antwoord die eienares. Magrieta se oë rek so bietjie. Sy groet en loop net om te sien Magriet volg haar. Magrieta gaan staan stil en verduidelik vir Magriet dat sy moet bly. Magriet se kyk spreek boekdele. Iewers hoor Magrieta die klanke van “maaaaaaar die kat kom weer want …” en sy gee ‘n lang mismoedige sug.

Vroeg die volgende oggend (nog donker), terwyl Magrieta bietjie koester tyd met Abba geniet hoor sy ‘n baie onwelkome geluid. Eers probeer sy dit ignoreer maar dit word net dringender en sy spits haar ore. Jip, dit Magriet, die Kat. Miskien as ek stil sit en lank genoeg wag, gaan sy weg…. Magrieta se mercy hart kom in die pad en sy struikel. Dis koud buite sê haar hart, siestog arme Magriet (nogal soort van naam genoot). Maar ek bid en kat gaan pla, probeer Magrieta haarself verweer. Die geveg binne Magrieta is groot. Alle snoesige koesterende vrede het soos mis in die son verdwyn. Magrieta het nie komplikasies soos Katte in haar lewe nodig nie. Dis katkos en aandag en kathare orals en ‘n Pasela papegaai wat buite op sy hok sit wat toutrek met ‘n mercy hart. Magrieta probeer haar hart verhard en sê neeeeeeeee……..

Gebruik kursief en ‘n ander kleur ink om jou gekose einde te skryf.

Uiteindelik kan Magrieta dit nie verder verduur nie. Sy knip haar gebed met die nodige apologie kort, sug en stryk aan na die deur toe. Sy kry by voorbaat haar mercy hart genoegsaam onder bedwang. Sy gaan vir Magriet, die Kat, summier opraap en by haar huis terugbesorg. Ononderhandelbaar.

Met ’n verbete trek om haar mond maar sy die deur versigtig oop, gereed om te keer dat kat haar systap en by die woonstel inglip. Deur die gleufie gewaar sy niks van die kat nie, stoot dan die deur ’n rapsie verder oop. Steeds niks. Sy tree oor die drumpel, kyk na links en regs, maar die kat is skoonveld.

Tevrede dat Magriet waarskynlik terug is huis toe, druk sy die deur toe en wend weer ’n poging aan om haar gebedsgesprek te hervat. ’n Lang miaaauuuuu maak korte mette van haar goeie voorneme. Sy herhaal die oefening by die deur, maar weer sonder sukses. Geen teken van die kat nie.

Sy sal haar taktiek moet verander, besluit sy na die vierde poging. Nou los sy die deur oop en staan naby genoeg om betyds te kan keer sou Magriet terugkom vir rondte vyf. Die vroegoggendson streep oor Pasela Papegaai se hok en raak-raak aan Magrieta se tone. Na ’n paar minute verloor die stukkie son die stryd en begin Magrieta se voete koud word. Dalk maar die ding laat vaar. Hopelik is Magriet hierdie keer regtig huis toe.

Pasela Papegaai skud sy vere, strek sy nek en stuur ’n oortuigende miaaauuuuu die lugruim in.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=785036