“Dis nou vir jou Namibië. Die land wat vir eensaamheid geskape is.” Ek kon nie verhelp om saam met Con Dorfling te sug aan die einde van hierdie besondere boek nie. Deur sy oë en die vernuftige skryfstyl van Isa Konrad, is ek ’n voëlvlug gegun oor ’n land wat ek nog nooit besoek het nie, kon ek weer verwyl op Karibib, want Alet Gouws was terug. Tewens, ek wens ek het die tyd gehad om sommer dadelik weer Die ondenkbare, met Briel en Lena, en Moord op Karibib te herlees.

Op die oog af ’n totale onpaar: Alet, ’n stadsmeisie wat haarself deeglik kan laat geld, maar tog ’n weerloosheid probeer wegsteek, en Con, wat alles behalwe die tradisionele IMG_1629held in ’n liefdesverhaal is en spesialiseer daarin om sy gevoelens heeltemal verkeerd te verbaliseer. Tog sorg die verhouding tussen die twee, vir suiwere leesgenot. Ek was beindruk oor hoe Con se woorde en gedagtes, die plek vir die leser wys, en die karakters bekendstel. Dit sorg ook vir subtiele humor wat plek-plek deurslaan, sonder dat die karakter poog om snaaks te wees. Hy is bloot Con, en konsekwent só.

Die moordsake wat Con ondersoek, dateer vyf en twintig jaar terug. Dit verleen ’n andersoortige karakter aan die verhaal, sodat die spanning, tot en by die ontknoping, grotendeels lê by die verhouding tussen Alet en Con. Die plot lewer wel deurgaans verrassende wendings op, sodat die leser kompulsief lees om agter die kap van die byl te kom.

Ek hoop van harte dat Isa Konrad alreeds werk aan ’n volgende avontuur vir Con en Alet, want ek het nog nie by benadering genoeg gehad van hulle nie.

 

Advertisements