Ek het nog nooit voorheen hieraan deelgeneem nie, want die ure in ’n dag is net te min. Daar het egter, by die lees van die uitdaging, ’n baie definitiewe herinnering by my opgekom, wat ek graag deel.

In my kinderjare was daar net een pad tussen Johannesburg, waar ons gewoon het, en Pretoria, waar my ousus gewoon het. Dit staan vandag nog bekend as Ou Pretoriaweg, net een smal baan in elke rigting, en rye bome waardeur die son geflits het, sodat ek gereeld kort duskant karsiek gaan draai het.

Die pad was ongelooflik bedrywig. Dit was asof die hele nasies aan’t migreer was tussen die twee stede vir ’n Sondagkuier. Omdat my suster nie motor bestuur nie, was ons altyd dié wat moes ry.

’n Entjie buite Pretoria was daar die bekende “Flying Saucer” padkafee met allemintige lekker melkskommels. Dit was egter ’n uitdaging om weer in die stroom motors in te kom, sou jy afdraai na die padkafd8dd237c9596e63dc50585b4717677f2ee toe.

Ek was ‘n laatlam met die wonderlikste pa denkbaar. So gereeld soos klokslag, het hy maar gedwee die ongerief uitgestaan, dat ek net my melkskommel kon gaan drink. Welke bederf hulle nie aldag kon bekostig nie, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander tyd.

Nou is ek sommer ordentlik nostalgies!