Net toe ek dink dat Chanette Paul nou omtrent elke vreemde onderwerp getakel het en in haar stories verweef het, pluk sy uit die bloute ‘n nuwe haas uit die hoed, of liewer, uit die lug, met die omstrede kwessies van vreemde vlieënde voorwerpe, van alien planete en van ’n gemeenskap wat wag vir die moederskip om hulle te kom haal.

Drie uiteenlopende karaktertipes wat in die storielyn ingespan word, het my opgeval: eerstens, mense is uiters beïnvloedbaar en sal ’n sblouteterk leier slaafs navolg. Om die skrywer se woorde te gebruik: “omdat selfs die ongeloofbare geloofwaardig word as dit is waarvan jou en jou kinders se oorlewing afhang.” Dan is daar gewetenlose mense wat ander blatant sal uitbuit en selfs elimineer vir eie gewin. Derdens is daar diegene wat nooit sal kompromie maak nie, selfs nie in die gesig van die dood nie. Hierdie elemente gee aan die verhaal substansie, te midde van die debateerbare onderwerpe soos VVV’s en grafologie.
Dit was heerlik om ou bekendes, en by uitstek die interessante Jojo weer te beleef, en oor Joachim is ek erg. Dit is nou ’n ordentlike man. Dalk is ek bevooroordeeld, omdat ons aan dieselfde kant van sestig is.
Die skrywer het weereens beïndruk met die akkuraatheid waarmee soveel detail hanteer is; vir elke raaisel was daar uiteindelik ’n oplossing aangebied en al die los drade netjies vasgeknoop. Dit is ’n lywige boek, maar beslis die leesure deur en deur werd.