Op ’n skaal van sensitiwiteit ten opsigte van grafiese, geweldadige tonele, sou ek myself gemaklik ’n agt uit tien gee, net kort duskant die punt waar jy nagmerries gaan kza.pinterest.comry daarvan. Die proloog van Bets Smith se nuutste spanningsroman, het my beslis tot by die punt gebring waar ek byna wou bes gee. Sensitiewe lesers, dit is nou dié erger as ekself, moet liefs verby hou. As jy dit egter kan verduur, of daarop floreer, beveel ek aan dat jy Kringloop aanskaf.

Uiteraard is spanning die essensie van die verhaal en dit word deurentyd gevoed deur selfs oënskynlike onbenullige insidente, maar wat vir die prooi van lewensbelangrike relevansie is. Verskeie karakters kom sterk onder verdenking synde die jagter te wees, en die leser bly wonder, beleef die prooi se angs.

Wat skryfstyl aanbetref, het ek die boek baie meer geniet as die een vroeëre werk van die skrywer wat ek gelees het. Sy skep ruimte effektief, sodat die leser die omgewing as element van die verhaal, deurentyd beleef. Oor die plaas in Namibië, het sy dit byvoorbeeld: “As sy haar oë vernou totdat die opstal verdwyn en die lyne net-net uit fokus swem, word dit die ruimtelandskap van ’n onbewoonde planeet.”

Kringloop is ’n verhaal wat boei. Dit spreek die relevante kwessies van afknouery aan, maar veral geweld teenoor vroue en kinders en raak aan die sielkundige kwessies wat dit dikwels onderlê. Dit bring die leser, saam met die prooi, by die punt waar vrees oorgaan in angs, of was dit andersom? Lees gerus en vind uit.