Nadat ek verlede jaar groot agting gekry het vir Madelein Rust as misdaadskrywer, met die lees van Monstersaad, het ek met opgewondeheid my hande kon lê op die opvolgroman, Bloedlyn. Reeds ná die eerste hoofstuk, wou ek ‘n entoesiastiese inskrywing maak op Facebook se Lekkerlees Boekrak, maar ek moet bieg dat ek myself nie die tyd gegun het nie. Ek het elke moontlike minuut gebruik om Renata Malan se verdere storie op te slurp.

In hierdie spannende boek, ondersoek Renata en haar span ‘n reeks sogenaamde ashoopmoorde. Dit is een en dertig jaar ná die moorde op kultuslede, gepleeg deur Renata se biologiese pa, George Alfred Hill. Elkeen van die nuwe moorde het ’n aanknopingspunt met Renata se geskiedenis. Moor haar pa weer, of is daar ’n ander moordenaar wat met haar kop en oordeelsvermoë smokkel? Soos in die vorige boek, is die skryfstyl so ongedwonge en onderhoudend, dat die leser nie eers agterkom hoe vinnig die ongelese deel minder word nie. Die spanningslyn word effektief volgehou en uitgebou en die ontknoping van die raaisel word uitgestel tot bykans aan die einde van die verhaal. Deurentyd word die leser ook gekonfronteer met die sielkundige implikasies van Renata, haar pa en ander rolspelers, se optredes. Maak oorerflike gene van jou ’n potentiële moordenaar of nie? Is die donkerte wat Renata binne haarself soek, ’n werklikheid?

Ek het img_05751.jpgal vele boeke gelees wat ek nie graag wou neersit nie. Dan is daar een soos Bloedlyn, wat ek byna nie kán neersit nie, selfs ten koste van ander dinge wat gedoen moet word. Ek is nie literêr genoegsaam onderlê om dit akademies te verklaar nie, anders as dat die verhaal jou totaal insluk en nie eers heeltemal loslaat wanneer jy die laaste bladsy lees, en die boek tevrede toemaak nie. Renata, Stefan, George Hill en die ander randkarakters, word so lewend dat hulle vir my, as leser, lank gaan bybly.

Ek wil elkeen wat hou van ’n goeie spanningsverhaal, en hierdie tweeluik nog nie gelees het nie, aanmoedig om dit sonder verwyl te doen.