Madelie Human se Held in ’n oorpak verdien sy plek in vandeesweek se Nielson Top 10 lys. Al die elemente is daar:  ’n held wat voorkomsgewys so na aan perfek is as wat mens kan hoop, maar knorrig en oorwerk, en die klassieke “failure to commit”. ’n Heldin met baie min vertroue in haarself en haar vermoëns, en ’n diepgewortelde voorneme om niks met die manlike geslag te doene te hê nie.

Die skrywer voeg daarby, met groot sukses, ’n paar aktuele storielyne. Wat ookal die leser se oortuigings is rondom die kontensieuse onderwerp van seksuele oriëntering, beklemtoon die skrywer die onteenseglike feit dat gay vriende oor die algemeen uiters lojaal is, en vermaaklik boonop. Wie kan verhelp om te glimlag as Hanno uitroep: “Hells’s bells, girlfriend, wat het jy met my maat van yster en plaat aangevang?”IMG_0571

Die vernietigende uitwerking van drankmisbruik in ’n gesin, kom ook onder die loep. Ook die kwessie van kinders wat nie voldoen aan die drome wat ouers vir hulle koester nie. Ek het nogal gewonder of die skrywer beide hierdie storielyne binne die beperkte lengte van ’n Romanza gaan deursien. Eergenoemde is netjies afgerond; die kwessie van Zack en sy pa het nie verdere aandag gekry nie. Dalk met ’n volgende boek?

Lesers wat Madelie Human aanhangers is, gaan tevrede terugsit ná die laaste bladsy. Diegene wat haar boeke nog nie ontdek het nie, gaan koop dit sommer dadelik!