IMG_0569Ek is regtig dankbaar dat daar geen reël bestaan wat volwassenes verhoed om jeugverhale te lees nie, want dan het ek ‘n heerlike verhaal misgeloop. Christien Neser laat die leerlinge van Gravitas lewe kry in die leser se gemoed, selfs vir my wat nie die vorige boeke in die reeks gelees het nie. Elle se benoudheid oor die komende matriekjaar en haar verpligtinge as aangewese hoofdogter, word baie realisties geskets en verwoord in jongmenstaal wat deurentyd smaakvol bly. Haar “binnestemmetjie” word treffend ingespan om haar emosies oor te dra en haar besluite te motiveer. En ons kan identifiseer met die jongklomp, want ons kan mos onthou, as ons onsself toelaat, hoe erg dinge op daardie ouderdom saak gemaak het. “Gomverdorie”, om Refilwe aan te haal, dit is ‘n boek wat ek beslis sterk sal aanbeveel vir hoërskoolmeisies (en volwassenes wat ‘n lekker ligte lees kan waardeer).