Kittie se storie strek oor dekades, en is ‘n deurdringende kyk na die dinamika binne ‘n gesin. Ook die invloed van grootouers op hulle kinders en kleinkinders, kom onder die vergrootglas. Santie van der Merwe het ‘n besondere aanvoeling vir emosies en dra dit oor aan die leser op haar treffende manier; gestroop van oordadige beeldspraak of hogere taalgebruik, kan die leser ten nouste identifiseer met die karakters. 

Kittie het geen keuse nie, sy moet terug na haar tuisdorp. Haar lewe in Engeland het uitgerafel, sy het geen werk, geen verloofde meer, en boonop het haar ma versorging nodig ná ‘n beroerte. Sy kom loop terug op die pad van haar eenkant wees, emosionele en fisieke aftakeling en konfronteer vele spoke uit die verlede. Ma en dogter moet opsluit dié dinge aanspreek wat vir jare  soos ‘n kloof tussen hulle lê. 

Die verhaal het my diep geraak, sonder om sentimenteel of voorspelbaar te wees. Grepe uit lirieke word effektief ingespan om die nuanses van die verhaal te onderstreep. Die boek was reeds ‘n topverkoper in Februarie, en diegene wat nog wik en weeg, kan dit gerus aanskaf. Dit is ‘n besondere reis saam met Kittie.