Vier heldinne, een tydskryf: dit is waarna jy kan uitsien wanneer jy aanstaande week die eerste uitgawe van RomanzaLiefde aanskaf. Bepaald ’n heerlikheid vir romantiese siele. Die voordeel van die novelette lê onder andere daarin dat held en heldin vinniger die knoop deimg_4597urhaak, sonder dat daar enigsins afbreuk gedoen word aan die vars storielyne.

Ek het ’n liefde vir die kortverhaal, daarom dat ek Joanna Alexander se Sluimerende liefde sommer heel eerste gaan lees het. ’n Verhaal van verlies en opoffering, maar gestroop van sentamentaliteit, en ’n heerlike afloop, die spreekwoordelike tweede kans op geluk.

Kersie bo-op, het my bekendgestel aan die vernuftige skryfwerk van Bernette Bergenthuin. Sy span ’n moderne tema, dié van ’n aktualiteitsreeks vir televisie, in om Marcelle Erasmus se paaie te laat kruis met dié van Basjan Rademan. Marcelle se tante het namens haar ingeskryf, en sy wroeg met skuldgevoelens omdat sy met ’n verskuilde agenda daar is, en heel gou ook met ’n onbetwisbare aangetrokkenheid tot die kersieboer.

Dina Botha is weer in die kol met Liefde met die eerste oogopslag. ’n Skatryk en baie aantreklike man klop aan by ’n biblioteek en jaag die bibliotekaresse, Anele Prinsloo, goed die harnas in my sy aanmatigende houding. Sy aanvaar tog ’n projekaanbod van hom, en kort voor lank verander sy haar siening van hom totaal, wanneer hulle sy aan sy werk om ’n raaisel op te los wat sy oorlede ouma vir hom gestel het.

In Toe-oë-afspraak, verplaas Madelie Human vir Martinet le Roux uit haar akademiese pos in Pretoria, na die skilderagtige Paternoster, en die huis van bekende skrywer JJ Jooste. Hy herstel na ‘n ongeluk wat hom tydelik van sy sig ontneem het. Beide JJ en Martinet het vooropgesette weerstand teen die teenoorgestelde geslag, maar die skanse word een na die ander afgebreek.

As ’n bonus, is daar die eerste twee hoofstukke van Laat ek jou liefhê, van Annarie Linde, vir diegene wat nog wonder of hulle dit moet aanskaf. 93 Bladsye van heerlike, romantiese leesstof in een tydskrif!

Advertisements