Die gras is lank. Plek-plek swiep dit om jou knieë as jy vinnig stap. Die voetpaadjie is byna toegegroei. Waar daar nie baie son val nie, is die rooi grond kliphard getrap. Elders slaan ‘n effense stoffie op met die trapslag.
Ek struikel byna oor ‘n verweerde swart wighaksandaal wat neffens die paadjie lê. ‘n Entjie verder het sy linkervoet maat tot rus gekom in die gras so ‘n meter van die voetpad af.
Nog ‘n paar treë verder kom ons ‘n swart en pienk stukkie onderklere teë. Dit begin sterk herinner aan ‘n Amerikaanse misdaadreeks op televisie. Ons is darem die grusame fonds van die lyk gespaar.
Tussen die pseudo misdaadtoneel en die huis is daar onder meer ‘n halwe rusbank, die geraamte van ‘n rekenaarkas, ‘n goeie stuk of twintig gebreekte cd-kassies, en natuurlik ‘n goeie aanbod van verskeurde vullissakke met die rommel wyd verstrooi en windverwaai. ‘n Enkelbedmatras se binnegoed peul uit waar dit onder die kragpaal lê en vergaan in die son en die reën.
Ingeval iemand gewonder het, dit is nie in ‘n plakkerskamp of ‘n twyfelagtige voorstad nie. Dit is waarteen ons elke dag moet vaskyk as ons gaan stap in ‘n heel skaflike buurt van ons dorp.
Watter tragedie …