Tags

, ,

Iewers moet ’n mens seker maar ’n streep trek – jy moet jou kop regkry, ’n deur agter jou toemaak, fokus verskuif, Dit klink eenvoudig genoeg, maar probeer dit uitvoer, dan is dit ’n toets wat mens nie met die eerste goeie voorneme slaag nie.

Gister is ons voormalige leraar bevestig in sy nuwe gemeente. As visie-voorsitter van ons kerkraad, was dit Willie se voorreg, maar ook sy las, om die gesin as’t ware aan die nuwe gemeente te oorhandig. Ek was baie trots op my man vir die wyse waarop hy dit hanteer het. Gelukkig het ons ons trane half opgebruik by die vorige week se afskeid in ons gemeente, en kon hy homself darem gestand doen ten aanskoue van die vreemde mense.

Dit was ’n pragtige en gewyde seremonie, deurspek met die erns waarmee so ’n amp na reg bejeën word. Vele mooi woorde en seënwense is uitgespreek. Ds Johan se intreeboodskap was kort, maar kragtig, opreg.

Dus, skouer aan die wiel, nie meer omkyk nie – maar ai, ons gaan hulle mis …