Ter viering van Wêreldboekedag môre, het Cum Uitgewers vandag ’n uitdaging gestel: Lees hoofstuk 1 van enige van die boeke op hulle webwerf, en skryf jou eie slot in 500 woorde.

Ek het Die geheim deur Beverly Lewis gekies. Dit is die eerste boek in ’n reeks en daarom is ’n “cliffhanger” slot in orde, want 500 woorde is maar min om sin te maak, spanning te skep en tot ‘n einde te kom.

Die betrokke eerste hoofstuk vertel van ’n Amish gesin, klaarblyklike probleme in die huwelik, 4 kinders tussen die ouderdomme 22 tot 15, die ma wat ’n uitgerekte rouproses het na haar suster se dood.

My slot sien soos volg daar uit:  (verskoning vir die oop reël wat die blog tussen die hoofstukke invoeg – my skryftutors sal niks daarvan hou nie!)

Judah klim stadig uit die motor en maak die deur afgemete toe. Hy staan vir ’n wyle huiwerend in die straat voor die helder pienk dubbelverdieping huis.

Twee van die houtvensters aan die straatkant  is halfpad oopgeskuif en die blinders opgetrek. Blinders met fyn blompatrone versluier die res van die vensters. Aan die sykant van die smal, regop huisie, is ’n witgeverfde houtbalkon sigbaar. ’n Kort wit houtheining aan die voorkant, rond die idilliese prentjie af.

Vanwaar hy vasgesteek het langs die motor, span hy sy oë in om ’n kleinerige naambordjie langs die voordeur te lees: “Hier woon liefde”.

 Judah sluk swaar aan die emosie wat sy keel laat saamtrek en dreig om hom te ontspoor. Hoekom het hy ingestem om te kom? Wat gaan hy vir haar sê na al die jare? Met die grootste wilsinspanning begin hy die straat oorsteek.

’n Pienk huis! Hy skud sy kop en ’n effense glimlag pluk aan sy mondhoeke ten spyte van sy onstuimige gemoedstoestand.  Beslis Grace se handewerk. Sy het altyd sin gehad in helder kleure en mooi lappe. Dit was deel van haar rebellie teen die Ou Orde. Sy was nie tevrede om ’n tuiste te skep vir haar pa en haar familie nie. Sy wou ’n kunswinkel gaan open in Lancaster. Haar koppigheid het haar verbanning uit die kerk en die gemeenskap beteken.

Die kraak van die hekkie verbreek Judah se gedagtegang. Hy stap tot by die voordeur en huiwer, kyk om na Grace in die motor. Sy beduie driftig dat hy moet klop. Die geluid van die klopper, dan voetstappe op ’n houtvloer. Die deur swaai oop en Judah kyk in die melkblou oë van Lettie Byler. Hy sien die skrik oor haar gelaat skuif, sekondes voordat trane in haar oopgesperde oë poel en teen haar wange begin afloop.

 “Middag, Lettie, mag ek binnekom?”

Lettie skud haar kop stadig van kant tot kant en steek haar arms afkerend voor haar uit. “Jy mag nie, Judah, ek is verban. Gaan weg, jy mag nie met my praat nie.” Sy begin die deur toestoot, maar Judah keer.

“Lettie, wag. Ek sal verduidelik. Gee my asseblief ’n kans,”

“Hoekom is jy hier, Judah? Jy weet tog dat jy nie met my en Grace kan kontak maak sonder om self verban te word nie.”

“Ek het vandag Bird-in-Hand finaal verlaat nadat ek die volle waarheid oor Naomi aan die biskop gaan vertel het.”

Lettie slaan haar hande oor haar mond om ’n gil te smoor. Judah keer net betyds as sy inmekaarsak. Hy stoot die deur toe en neem haar na die naaste rusbank.

“Vyf jaar gelede wou jy weet of ek ongelukkig was met jou. Ek kom nou bely dat ek arrogant en ongevoelig was. En ja, ongelukkig. Ek het toegelaat dat jy die prys betaal vir my dwaling. Ek kan nie verwag dat jy my vergewe nie, maar ek is bitter jammer, Lettie.”

Wanneer Lettie se oë syne vind, sien hy geen veroordeling nie.

“Ek vergewe jou, Judah.”

                                                                                                499 Woorde

Maak my skoon lus vir storie skryf!

Tot volgende keer…