In my relatiewe kort blootstelling aan skryfdinge, het ek meer as een kursus gevolg, ‘n slypskool bygewoon waar ‘n bekende skrywer opgetree het, ‘n geestelike fiksie werkswinkel ook bygewoon. Daar het nie alleen ‘n skrywer nie, maar ook ‘n uitgewer die woord gevoer.

Een stukkie raad wat soos die spreekwoordelike goue draad deur al die onderwysings geloop het, was lees, lees, lees. Volgens almal wat weet, is dit ‘n absolute voorvereiste van enige sukses met jou pennevrug.

Ek het, ewe gehoorsaam, my leesgewoontes uitgebrei om verder te reik as Engelse geestelike fiksie. Ek het van ons Afrikaanse skrywers se werk begin lees, sekulêre werk en die beperkte aanbieding in die geestelike fiksie genre. Moet bieg dat ek nog nie my tande mooi in die swaar liturêre werke gekry het nie. Maar Rome is mos nie in ‘n dag gebou nie!

Dit bring my egter by ‘n dilemma: om te skryf, moet ek lees. As ek lees, het ek nie tyd om te skryf nie. Lees of skryf, skryf of lees?

Ek het die afgelope twee dae gepoog om die boek wat ek al einde Maart aangevat het, ‘n knou te gee, want ek verloor aanhoudend tred met die groot klomp karakters in die boek, juis omdat ek dit so hortend lees. Die boek staan weliswaar nou einde se kant toe, nog nie heeltemal daar nie, maar ek vorder. Aan die ander hand was die gevolg dat ek vir twee dae nie by my blog uitgekom het nie!

Dalk is die groot vraag nie “Lees of skryf” nie, dis dalk eerder: waar kry ek ‘n paar ekstra ure vir die dag!