Tags

, ,

Vroegoggend tydens die skryfkursus op Dwarskersbos, is daar koeverte uitgedeel – sonder name op – nie in ‘n bepaalde volgorde nie – sommer net uitgedeel. Byna soos ‘n gelukspakkie. Uitruil mag ons nie. Wat jy kry, is jou lot, een van jou skryfopdragte vir bespreking die volgende dag.

Die reaksies by die oopmaak van die koeverte was kostelik, want dit was tegelyk opwindend, interessant en skrikwekkend. Elke dag iets anders. Elkeen s’n het verskil. Ek herinner my aan ‘n oggend toe die koeverte fisiese voorwerpe ingehad het. Iemand het ‘n knoop gekry, ‘n ander een ‘n groen plastiese gogga van ‘n aard.

Een oggend het Trudy tyd afgestaan aan die belangrikheid daarvan om jou sintuie in te span in jou skryfwerk. Nadat sy die teorie behandel het, het sy ons afmarsjeer strand toe, gewapen met pen en notaboek. ImageDaar aangekom, moes ons kyk, ruik, voel, en natuurlik neerskryf. Soveel moontlik sintuiglik waarneem, van die winterson op ons vel, tot die reuk van die uitgespoelde seewiere, die geluid van die see, die vorms van die wolke, die tekstuur van die sand … elkeen besig met haar eie interpretasie van die ruimte rondom ons. Image

Die befaamde koeverte het daardie dag soos volg daar uit gesien: ‘n reuk, ‘n geluid, drie name van karakters, ‘n plek waar die verhaal moes afspeel, en ‘n voorwerp van konflik. En net daar is my eerste gepubliseerde kortverhaal gebore!

Stink voete, prrr prrr prrr, Petronella, Willempie en Mangels, en ‘n hoenderhaan in ‘n kusdorp … Nie geklink na storievonke vir een my gewone stories wat aljimmers neig na die ernstige kant nie. Ek moes vir die eerste maal my hand aan humor waag. Teen my verwagtinge in, het die storie heerlik gevlot toe dit eers koers kry en het dit byval gevind by my maters in verdrukking!

Dit het my gemotiveer om, terug by die huis, die storie uit te brei, die kusdorp te verruil vir ‘n klein plattelandse dorpie, te poets en te skaaf, en die gewraakte “send” knoppie te druk. Dit dan hoe Die losprys sy oorsprong gehad het in ‘n koevert.