Dit sal nie eerlik wees indien ek sou sê dat ek van kleintyd af ‘n skrywersdroom gehad het nie. Ek het wel op ‘n dag my hand aan ‘n storietjie gewaag, onder aanstigting van ‘n oom van my. Ek is bevrees dat ek nie verder as ‘n hoofstuk of twee gevorder het nie. Hierdie einste storievonk het egter onlangs vorm gekry in ‘n kortverhaal, ‘n Blom wat stom is, wat ‘n weninskrywing was in ‘n kortverhaalwedstryd.

Hoe het die skrywery dan begin?

Die Vriende van die Kempton Park biblioteke het in 2011 ‘n hernude poging aangewend om ‘n skrywersforum te stig. Ek het op uitnodiging ‘n byeenkoms bygewoon en ‘n skryfopdrag wat ons daar gekry het, het die spreekwoordelike bal aan die rol gesit. Kort na my eerste A4-poging, wat goed ontvang is deur die lede, het ek Skryfgeheime se kursus in algemene kreatiewe skryfkuns, onder leiding van Janie Oosthuysen, aangepak.

Oor die loop van ‘n jaar, het ek naels gekou en tande gekners wanneer ek ‘n opdrag moes instuur. Die kommentare was nie altyd noodwendig wat ek wou hoor nie, maar dat ek baie geleer het oor die skryfkuns, is verseker!

Die prys vir die kompetisie was ‘n weeklange skryfskool in die pragtige Dwarskersbos aan die Weskus. Wat ‘n voorreg was dit nie. Saam met vyf ander dames om ‘n tafel in die lieflike gastehuis, JubelnJuig, geswoeg onder leiding van Trudy Erasmus van Die Skryfbesigheid. Geskryf tot laat in die nag, soms aan onderwerpe wat heeltemal buite my gemaksone gelê het.

Ek sal nog vertel van stories wat daar in Dwarskersbos gebore is. Vir nou wil ek volstaan met ‘n stelling wat vreemd mag klink: ek is nie seker hoekom ek skryf nie!

Ek het nie ‘n storie wat ek ten alle koste moet skryf nie. Ek het nie storietjies op klein stukkies papier geskryf as kind nie. Ek was nie eers besonder lief vir opstelle nie. Dit is alles redes wat Susan Coetzer onlangs by ‘n werkswinkel aangevoer het, wat daarop kan dui dat jy van skrywersformaat is. Ek is nog nie oortuig dat ek die nodige dissipline het om ‘n roman te skryf nie, of dat ek skryffiks en liggaamlik fiks genoeg is om dit aan te durf nie.Barbier

Ek weet net dat ek baie daarvan hou om ‘n storie te voel vorm aanneem; dat ek hou van die uitdaging wat ‘n kortverhaal bied ten opsigte van woordekonomie. Ek hou daarvan om die eindproduk te lees, en vir die Here dankie te sê vir die vermoë om iets te skep.

En dis verskriklik lekker om ‘n verhaal in ‘n tydskrif te sien, en te weet dis jou storie!