Tags

, ,

Het jy wat nodig is om ’n skrywer te wees?

Dit was die belangrike vraag waarmee Susan Coetzer die Carpe Diem Geestelike Fiksie Werkswinkel afgeskop het op 16 Maart 2013. Ek het saam met nege-en-negentig ander kursusgangers geluister en gewonder …Party het dalk dadelik geweet. Ander, soos ek, het daar uitgestap en is onmiddelik weer opgevang in die drukgang van die lewe, en het die vraag netjies omseil.

Ek erken ruiterlik dat ek nog nie die vraag na behore bedink het nie; wat nog ‘n antwoord daarop het. Wat ek wel weet, is dat my huidige lewensstyl nie ruimte laat vir die daaglikse skryf wat, volgens Susan, ’n voorvereiste is nie. Ek sal ’n paar dinge anders moet doen, my tyd op ’n nuwe manier begin bestuur. Dit sal ’n definitiewe prioriteit moet word, anders gaan enige vinnige voornemens in die stof byt.

’n Klinkklare bewys lê in die feit dat ek my blog vol moed geregistreer het binne ’n week na die kursus, maar vandag, byna ’n maand later, vir die eerste maal my hand waag aan ‘n inskrywing.

Dus, terug na die spreekwoordelike “drawingboard” om te besluit of ek kans sien vir die uitdaging.